ALEXANDERBAAI – Ouers hier is baie bekommerd oor die tekort aan onderwysers by Hoërskool Alexanderbaai.
’n Ouer en inwoner van die dorp het aan FiND iT verduidelik die tekort aan onderwysers vir geografie en rekenaartegnologie-praktyk kom al van laas jaar af. “Ons as ouers het besluit om nie ons kinders skool toe te stuur, totdat die departement die probleem oplos nie.”
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Departement van Onderwys in die Noord-Kaap, sê: “Die departement ontvang steeds laat aansoeke om toelating en dit beïnvloed beskikbare hulpbronne, insluitend opvoeders. Aangesien die aantal aansoeke daagliks toeneem, moet die skool en distrikte binne tien werksdae ’n motivering indien vir die aanstelling van addisionele onderwysers. Ons is bewus daarvan dat daar by sommige skole ’n tekort aan opvoeders is en dat die departement daartoe verbind is om hierdie onderwysers aan te stel sodra die distrikskantore dit verifieer.”



