September 24, 2021

Weet jy hoe om jouself te verdedig teen iemand wat jou kwaad wil aandoen?

In vandag se tyd is dit byna nêrens meer veilig nie. Daar is soveel gevalle waar onskuldiges slagoffers raak van situasies waarin hul lewens bedreig word.

Marnu Basson (26), eienaar van Iron Fist MMA Academy in Kimberley, gesels met ons oor wat jy behoort te weet.

Basson praat uit jare se ondervinding in die gevegskuns. Hy het op die ouderdom van nege begin met karate en het al selfs by die MFC Kampioenskappe in Durban die weltergewigtitel gedra.

Probeer aanvalle voorkom

Basson sê alhoewel dit redelik algemene kennis is, let soveel mense nie regtig op na die volgende nie:

• Moenie alleen rondloop tensy dit regtig nodig is nie;
• Moenie enige waardevolle items, soos ’n selfoon, op jou dra nie;
• Maak te alle tye seker dat jy weet wat rondom jou aangaan;
• Moet nooit tussen twee mense deur verbyloop nie;
• Probeer altyd eers om weg te hardloop of om hulp te roep.

Sou iemand jou miskien probeer aanval, sê Basson jy moet die aanvaller op sy swakste plek moontlik probeer seermaak of slaan. “Mik na byvoorbeeld die oë, gorrel, of tussen die bene.”

Vir wanneer jou aanvaller ’n mes het

Volgens Basson is die kanse dat jy in ’n mesaanval seer gaan kry, redelik groot. Daarom moet jy probeer om die aanvaller met jou arms af te weer, om sodoende ’n steek in jou bors of maag te voorkom. Probeer om beheer te kry van die arm waarin die aanvaller die wapen hou en roep om hulp.

Basson sê dis belangrik om te onthou dat jou lewe baie meer waardevol is as ’n selfoon of ’n paar rand. Gee altyd dit wat jou aanvaller soek, eerder as om dalk met jou lewe te moet boet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *