JOHANNESBURG – Die Jordao College leerling wat op 16 Januarie verdwyn het, het Vrydagaand aan haar ma ’n stemopname gestuur waarin sy sê dat sy veilig en gelukkig is.
Yvette Cilliers, die vermiste se ma, het haar dogter (16) Donderdagoggend laas gesien. Sy was op pad werk toe en haar dogter het nog geslaap.
Vrydagaand het haar ma blykbaar ’n onduidelike stemopname van haar dogter ontvang waarin sy sê dat sy veilig by iemand aangekom het en dat sy gelukkig is.
Die vermiste se oom het egter aan FiND-iT gesê hulle vermoed dat ’n man dalk die meisie saam met hom geneem het.
“Hy was baie versigtig om nie enige spoor agter te laat nie.”
Die vermiste se familie volg enige leidrade op wat dalk kan lei tot antwoorde in verband met haar verdwyning. Die vermiste is ongeveer 1,7m lank, het donker hare en sproete op haar neus. As jy miskien enige inligting het, kontak asseblief 072 240 2231.



