Meegevoel na afsterwe van twee NK-leiers

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Die provinsie het ’n groot verlies gely na die dood van twee leiers en aktiviste Roy Olyn en priester Obakeng Jakkals, wat hulself altyd verbind het tot die visie om ’n welvarende samelewing te bou.

So sê Browyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premierskantoor.

Olyn was die voormalige burgemeester van die Kai! Garib-munisipaliteit en was die speaker en burgemeester van die ZF Mgcawu-distrik.

Priester Jakkals was ’n welbekende amptenaar, godsdiens- en gemeenskapsleier van die Frances Baard-distrik.

Thomas-Abrahams sê hulle het die regering, hul gemeenskappe en die mensdom in verskillende hoedanighede gedien en hulle ywer, opoffering, harde werk en respek vir ander het nooit ongemerk gegaan nie.

Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het namens die provinsiale regering en die mense van die provinsie hulle meegevoel aan die familie, vriende, die breër gemeenskap sowel as die ANC met hul afsterwe betuig.

Die heengaan van hierdie twee uitstaande leiers is ’n groot verlies vir die provinsie as geheel. Hul bydrae tot die verbetering van die lewens van die gemeenskappe wat hulle gedien het, sal onthou word en sal deel vorm van die ryk erfenis wat hulle nalaat.