Vyf subkontrakteurs ongelukkig oor wanbetaling

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Vyf subkontrakteurs het vanoggend met plakkate voor ’n plaaslike kantoor van ’n nasionale konstruksie-maatskappy in MacDougallstraat bymekaargekom, glo oor wanbetaling.

Robert Pommer, een van die ongelukkige subkontrakteurs, sê wyle Jim Pommer, sy pa, het ook vir die maatskappy gesubkontrakteur, maar is oorlede terwyl hy nog vir sy uitbetaling gewag het.

Tebogo Moleleki, nog ’n subkontrakteur, sê hulle het ’n klein gedeelte van die geld betaal, maar noem dit ’n loon. Die maatskappy het glo verskeie fooie onder andere R3000 vir versekering, 20% plus belasting en nog ’n verdere 13% by die subkontrakteurs verhaal, sê hy.

Die groep sê hulle gaan dit nie daar los nie. Hulle het in verlede week die premierskantoor besoek, maar hulle volgende stap sal wees om ’n saak teen die maatskappy te bring, sê hulle.

FiND iT het die maatskappy gekontak, maar kon nie betyds vir publikasie terugvoering ontvang nie.