Oorgrensoperasie tussen drie provinsies begin voor vakansie

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Die polisie, verkeersdepartement en departement van binnelandse sake van die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Oos-Kaap het gesamentlik op 5 Desember met oorgrensoperasies hier begin.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die operasie dien om georganiseerde misdaad, vervoer van onwettige goedere, gesteelde eiendom, gesteelde voertuie, dwelmhandel, mensehandel en onwettige vuurwapens aan te spreek.

Verskeie misdade is ondersoek en misdadigers is vasgetrek. 

Voldoeningsinspeksies is by handelaars van tweedehandse goedere, asook skrootwerwe en drankwinkels uitgevoer. ’n Sjebeen op Lutzville, Wes-Kaap, is toegemaak na ’n klopjag en ’n groot hoeveelheid alkohol is gekonfiskeer. Die eienaar is ‘n stewige boete opgelê, sê Ramatseba.

’n Groot teenwoordigheid van owerhede was sigbaar by padblokkades op die N1, N2, N6, N7, N12 asook sekondêre paaie wat in en uit hierdie drie provinsies lei. Swaar en ligte motorvoertuie is deursoek en geïnspekteer om te verseker dat dit padwaardig is om op nasionale en provinsiale paaie te reis. 

Die operasie het die volgende suksesse opgelewer:

  • Boetes ter waarde van meer as R300 000 is aan motoriste uitgereik weens die oortreding van die verkeerswet;
  • Dwelms onder andere metamfetamienkristalle, Mandrax-tablette, dagga en khat ter waarde van R100 000 is in die drie provinsies gekonfiskeer;
  • Meer as 10 000 voertuie is deursoek. ’n Busbestuurder wat 65 passasiers in ‘n bus vervoer het, is ook gearresteer terwyl hy onder die invloed van alkohol in die Oos-Kaap, naby Jefferysbaai, gery het. Hy staan tereg op twee aanklagte nadat hy polisiebeamptes wou omkoop om vrygelaat te word;
  • ’n Motoris is op die N1 in hegtenis geneem nadat hy 173 km/h in ’n 80 km/h sone gery het;
  • Beslag is gelê op gesteelde voertuie en onwettige ingevoerde voertuie;
  • Opsporing van gesoekte verdagtes is uitgevoer en misdadigers wat op vlug was, is vir verskeie misdade in hegtenis geneem;
  • Daar is beslag gelê op 96 bokse perlemoen;
  • ’n Ongedokumenteerde persoon is gearresteer;
  • Beslag is gelê op onwettige sigarette en afzal-melasse ter waarde van R684 304;
  • Koperkabels is gekonfiskeer;
  • ’n Pistool is ook op beslag gelê;

Die verdagtes sal na verwagting in verskeie landdroshowe regoor die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Oos-Kaap verskyn, sluit Ramatseba af.