POTCHEFSTROOM – ’n Patrollielid van AfriForum se Potchefstroom-buurtwag het op 5 Desember tydens ’n patrollie op twee bakkies met sleepwaens afgekom wat 105 skape vervoer het.
Volgens ’n persverklaring deur die burgerregte-organisasie het die patrollielid die verdagte voertuie dopgehou en tot op die N12 in Fochville se rigting gevolg.
Die patrollielid het ’n lid van die Potchefstroom-brandbeskermingsvereniging en ’n polisiereservis op Fochville met dié inligting gekontak, waarna die Fochville-polisie die verdagte voertuie by die kruising van die N12 en R500 afgetrek het. Aangesien die insittendes van die verdagte voertuie geen relevante dokumentasie of redelike verduidelikings kon verskaf nie, het die SAPD die insittendes gearresteer en beslag op die twee bakkies, sleepwaens en 105 skape gelê. Van die skape op die sleepwaens het reeds gevrek en ander was beseer. Die DBV se hulp is ingeroep en hulle ondersoek ook ’n klagte van dieremishandeling.
Die buurtwag wil graag die patrollielid, die Potchefstroomse Burgerlike Brandvereniging, die Fochville-polisie en die DBV bedank vir hierdie flink optrede, samewerking en oplettendheid.
“Dit is uiters noodsaaklik dat die publiek tydens hierdie feestyd ekstra oplettend en versigtig sal wees, aangesien dit spitstyd vir misdaad is. Ek het groot waardering vir die patrollielid wat so oplettend was en ook op die regte wyse opgetree het. Dit maak ’n reuseverskil in ons gemeenskap,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.



