BARKLEY-WES – Twee van die vier verdagtes wat polisiebeamptes by die Windsorton-polisiekantoor van hulle wapens beroof het, is in hegtenis geneem.
Nomthandazo Mnisi, woordvoerder vir die Valke, sê die twee verdagtes, 30 en 42, is na twee maande se intensiewe ondersoek deur die Valke op Woensdag in die Vrystaat en Gauteng gearresteer.
Twee polisiebeamptes is op Woensdag 2 Oktober in die Windsorton-polisiekantoor oorval en vasgebind. Die verdagtes het die kluis oopgebreek en vier 9 mm-dienspistole en twee R5-gewere gesteel. Lees ons vorige berig, Polisiebeamptes vasgebind, polisiekantoor geroof.
Mnisi sê beslag is gelê op vier pistole, een onwettige handgeweer, drie dienspistole, twee R5-gewere en ’n gesteelde voertuig.
Die twee beskuldigdes gaan Vrydag in die Barkley-Wes-landdroshof verskyn.
Die soektog na die ander twee verdagtes en uitstaande wapens duur voort.



