VK – Mans word die minste gestres as hul vrouens ongeveer 40% van die huishoudelike inkomste verdien.
Volgens nuwe navorsing van die Universiteit van Bath in die Verenigde Koninkryk raak mans egter al hoe ongemakliker namate hul gade se loon styg. Stresvlakke vererger nog meer indien hulle heeltemal ekonomies van hul maat afhanklik is.
Die studie van meer as 6,000 Amerikaanse heteroseksuele paartjies ouer as 15 jaar het getoon dat mans op hul angstigste is as hulle die enigste broodwinner is en die verantwoordelikheid dra vir die finansies van die huishouding. Stresvlakke neem toe wanneer vrouens beide minder of meer as 40% van die huishoudelike inkomste verdien.
“Hierdie bevindings dui daarop dat sosiale norme oor manlike broodwinning – en tradisionele konvensies oor mans wat meer as hul vrouens verdien – gevaarlik kan wees vir mans se gesondheid,” sê dr. Joanna Syrda, ’n ekonoom aan die Univiersiteit van Bath se bestuurskool.
Syrda het opgemerk dat die studie ook getoon het mans het nie sielkundige probleme ondervind oor die inkomste van hul vrouens as hul vrouens die inkomste vanaf voor die huwelik verdien het en hulle bewus was van die bestaande en potensiële inkomstegrens.
Vroue het gerapporteer dat hul mans die laagste stresvlakke gehad het toe hulle 50% van die huishoudelike inkomste bygedra het, terwyl mans gerapporteer het dat hulle die minste stres ervaar het toe hul vrouens 40% bygedra het.
“Die feit dat vroue dit anders waarneem, is dalk net omdat mans nie daaroor praat nie. Dit kan nog ’n manifestasie van geslagsnorme wees,” het sy gesê.



