KIMBERLEY – ’n Flamink is vanoggend op die N12 by Langberg-gasteplaas naby Magersfontein vrekgery voordat redders by dit kon uitkom.
Anelie van Niekerk het vanoggend om 09:46 ’n boodskap op ’n plaaslike Facebook-groep geplaas nadat sy die flamink op die kant die pad sien loop het. Sy het gevra of enigeen beskikbaar is om te help, omrede die betrokkene afdeling by die departement van natuurbewaring nie beskikbaar was nie.
FiND iT het dadelik vir Errol Swartbooi, hoofinspekteur by die departement gekontak, maar hy het verduidelik ’n memorandum moet eers uitgereik, ingedien en goedgekeur word voordat ’n voertuig beskikbaar gestel kan word. Dit kan moontlik te laat wees vir die flamink teen die tyd wat die proses afgehandel is, het hy verduidelik.
Beryl Wilson, departementshoof van dierkunde by die McGregor-museum in Kimberley, sê redders het onmiddellik reageer nadat dit om 09:50 in ’n dierereddingsgroep op WhatsApp geplaas is, maar hulle was te laat. Die flamink was reeds omstreeks 10:42 vrek toe redders daar opdaag.
“Die N12 is net te gevaarlik vir diere, veral indien dit spitstyd is,” sluit Wilson af.



