Man deur boomslang gepik

Deel hierdie storie / Share this story

JAN KEMPDORP. – ’n Boer van hier net meer as ’n uur terug deur ’n giftige boomslang gepik.

Slang pik man

Petrus Meyer (46) is nounet in Gariep Medi-Clinic opgeneem. Agnes, sy vrou, sê Petrus het die boomslang opgetel sonder dat hy geweet het dis ’n boomslang. “Hy was bang iemand maak die slang dood. Ons het nog nooit enige probleme by ons huis gehad nie. Die slang het hom gepik toe hy hom optel.”

Vra op groep vir raad

Nadat hy gepik is, het sy nefie, Jannie Nel, op die Facebookgroep Snakes of South Africa, gevra watter slang dit is. Daar is kommentaar gelewer dis ’n boomslang en Meyer moet dringend by ’n hospitaal vir teengif kom.

Man is rustig

“Dr. Fisher op Jan Kempdorp het vir hom ’n inspuiting gegee en toe Kimberley toe gejaag. Hy is in die intensiewe eenheid opgeneem. Petrus is verskriklik rustig. Hy lyk nie of hy iets makeer nie,” sê Agnes.

Petrus het oor Whatsapp aan FiND iT gesê hy “voel goed”.

Begin inwendig bloei

Dawie Griesel, slangvanger van Kimberley, sê ’n boomslang se pik veroorsaak dat jy inwendig begin bloei. “Dit hang af hoeveel gif jy gekry het. As jy op jou hand gebyt is, is dit gevaarlik. Dit kan ’n tydjie neem vir die simptome om te wys. Dit neem so vyf ure voordat jy begin simptome wys.”

Griesel sê daar is teengif vir dié byt. “Dit is ongelooflike duur teengif en daar is verskeie newe-effekte. As ek, wat ’n slangvanger is, byvoorbeeld deur ‘n Kaapse Kobra gepik word, kan ek my regmaak vir ’n mediese rekening van tussen R100 000 en R1 miljoen.”

Denise Coetzee, woordvoerder vir Gariep Medi-Clinic, het bevestig die hospitaal het teengif. “Ons monitor die pasiënt om te sien of hy teengif nodig het.”