Ou rokers gesonder na maand op e-sigaret – studie

VK – Lang termyn rokers wat oorskakel na e-sigarette kan glo binne ’n maand ’n verbetering in hulle gesondheid geniet.

So het navorsing deur die Universiteit van Dundee in die Verenigde Koninkryk  tydens die grootste kliniese proef nog ter wêreld gevind.

Volgens New Scientist, ’n aanlyn wetenskaplike tydskrif, sê die navorsers daar is ’n  “duidelike vroeë voordeel” om oor te skakel.

Diegene wat sigarette vir “vape” gelos het, se bloedvatfunksie het binne vier weke met ongeveer 1,5 persentasiepunte toegeneem in vergelyking met diegene wat aanhou sigarette rook het.

Die navorsers sê hulle is nog nie seker of die voordeel voortdurend is nie. Meer navorsing oor die langtermyn-implikasies van “vaping” is nodig. Hulle het ook gewaarsku dat dit nie skadeloos is nie, maar bloot ‘minder skadelik’ as rook.

Hulle sê egter indien hierdie verbetering op lang termyn volgehou word, sou diegene wat oorgeskakel het, se risiko vir kardiovaskulêre gevalle, soos hartaanvalle, met minstens 13% afneem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *