Weermag ruim N8 op

Deel hierdie storie / Share this story

Die weermag in Kimberley het vanoggend vroeg aan die werk gespring en die veld langs die N8 na Kimberley skoongemaak. Hulle het by die weermagbasis begin en die hele veld tot by die brûe by die ingang van Kimberley en die ingang van die lughawe skoongemaak.

Lt.Kol. Marius van Wyk, wat die projek begin het, sê dit is iets wat hy al vir ’n lang tyd wou doen. “Aangesien Sol Plaatje die inisiatief gevat het om die ingange van die dorp skoon te maak, het ek besluit hierdie is nou my kans. Ons fokus daarop om die veld in diepte skoon te maak.”

Kwartaalliks

Van Wyk sê dit sal ’n kwartaallikse projek wees om die veld skoon te maak. Hy sê sy mense is baie positief oor hierdie projek. “Ek observeer al die area vandat ek bevelvoerder geword het. Dit is nie die beeld wat ons aan die gemeenskap wil uitdra nie. Ons wil die gemeenskap wys dat die weermag dissipline en respek vir hulle omgewing het. Dit is ons plig, buite ons groter rol in die weermag, om na die gemeenskap om te sien. Ons is deel van die gemeenskap. Ons is almal een.”

Ander projekte

Van Wyk vertel dat hulle elke jaar vir die maand van Julie, vir Mandeladag, na ouetehuise en in die gemeenskap uitgaan om te help tuinmaak.

Verder vertel hy dat hulle elke maand op die 15de ’n instandshoudings-projek het waar hulle binne die kamp tuinmaak en bome snoei. Daarna sluit hulle die middag af met ’n informele braai, waar hulle mekaar kan leer ken en hy met sy mense kan gesels.