JOHANNESBURG. – Brandon van Niekerk (15), ‘n leerling aan die Hoërskool Jan Viljoen, wat hierdie week herhaaldelik deur ’n 16-jarige meisie met die vuis geslaan is, wou glo ’n paar maande gelede sy eie lewe neem omdat hy geboelie word.
Martie Muller (61), Brandon se tannie by wie hy woon, het aan FiND iT gesê hy word al vir die afgelope ses maande deur hierdie meisie geboelie.
Boelie gaan oor brief
“Hy het ’n liefdesbrief aan sy eks-meisie geskryf as sy manier om vir haar totsiens te sê. Dit is hoekom die meisie hom geslaan het. Sy is ‘n vriendin van sy eks-meisie,” vertel Muller.
Skool doen niks
“Ons het geweet hy word by die skool erg geboelie en die skool het niks daaraan gedoen nie. Ek wou al voorheen die meisie voorkeer, maar Brandon het gevra ek moenie omdat hy nie nog meer moeilikheid wil hê nie.
“Sowat vier maande gelede was hy heeltyd buite besig, maar ek het ’n slegte gevoel daaroor gekry. Ek het hom gevra om in te kom huis toe. My man het die volgende oggend ’n tou buite, waar Brandon besig was, gevind. Brandon het aan my onthul hy het daaraan gedink om selfdood te pleeg, maar dat ’n klein stemmetjie vir hom gesê het hy moenie.”
Wil nie terug skool toe
Sy sê Brandon wil glad nie meer teruggaan skool toe nie, veral nie na Hoërskool Jan Viljoen toe nie.
“Ons het nog geen kontak met die meisie se ouers gehad nie. Ek weet glad nie wie hulle is of wat hulle omstandighede is nie. Die meisie is vir sewe dae geskors by die skool, maar die skool maak een van die dae toe vir die vakansie, so ons weet nog nie wat daarna gaan gebeur nie.”
Martie sê Brandon se oog was bloedrooi en sy mond was baie seer, maar dit gaan nou beter met hom.
FiND iT het navrae aan die skool gerig, maar geen terugvoer teen tyd van publikasie ontvang nie. Die skool se telefoon lui net.



