SUID-AFRIKA – ’n Petisie is begin om die onderwysdepartment se nuwe omvattende kurrikulum vir seksvoorligting stop te sit.
Die petisie is deur Lauren Bernardo, ’n Suid-Afrikaner, onder die hutsmerk, #LeaveOurKidsAlone, begin. Dit is binne twee weke deur bykans 25 000 mense geteken.
Volgens Bernardo se petisie wat aan Angie Motshekga, die minister van onderwys, die onderwysdepartement, asook die departement van maatskaplike ontwikkeling gerig is, het die departement reeds in 2000 omvattende seksvoorligting ingebring. Dit glo sonder konsultasie met ouers en onderwysers, lui die petisie.
Groepe gekant teen nuwe inhoud
Volgens The Conversation, ’n aanlyn-publikasie, het verskeie “konserwatiewe ‘pro-familie’-voorspraakgroepe met Amerikaanse bande” die nuwe kurrikulum teengestaan.
Drie groepe naamlik die Freedom of Religion South Africa (FOR SA), die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), asook die Family Policy Institute is hewig teen die nuwe inhoud gekant.
Hulle doen ‘n beroep op burgers om te mobiliseer en die nuwe inhoud te boikot. Die groepe voer aan dat die inhoud inbreuk maak op tradisionele Christelike waardes en gevaarlik is vir kinders.



