Is South Ridge gevaarliker as ander areas?

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Inwoners hier voel deesdae baie onveilig in sekere woonbuurte. Hulle ly baie onder diefstal, inbrake en aanranding.

Na aanleiding van die brutale aanranding van ’n 21-jarige man in South Ridge, het inwoners hier hul mening gelug oor hoe dit deesdae in hierdie area gaan.

Alhoewel lesers sê hulle bly al baie jare in die area en het nog geen probleme ondervind nie, is daar ander lesers wat nie so gelukkig is nie.

Nico Venetia Klopper sê daar is twee weke gelede vyf keer in Hearn Close ingebreek.

“Ons woon ook in Hearn Close en hulle het drie maande gelede ook by ons ingebreek,” sê Anthea van der Sandt.

Sharolene van Bosch en Helen Fox sê dit raak nou baie erg in hierdie area.

Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, sê hulle ondervind baie misdaad in Kimberley, maar dit is baie verspreid in al die areas en kan nie sê dat dit spesifiek hoër in South Ridge is nie.  

“Klagtes wat ons wel weer deesdae baie ontvang is vir hekmotor-diefstal. Dit is egter ook nie net in spesifieke areas nie en is ook baie verspreid.”

Sy het ook gesê die polisie is nie bewus van enige bendebedrywighede in die area nie en het nog geen klagtes daaroor ontvang nie.