Carike Van Aswegen Pienaar (41), ’n vrou en ma van Kimberley is gekies as eerste prinses vir Mrs. Africa Classic en het ook die titel Mrs. SA Elite United Nation 2020 verower en sal Suid-Afrika in 2021 in Kanada verteenwoordig.
Carike werk al vir die afgelope 10 jaar by KEMJV in Kimberley. Sy is ook al vir 16 jaar met haar man Andre Pienaar getroud. Die paartjie het twee kinders, Mare-Lewis (14) en Zandre (7).
Passie
“Ek het my lewe so eenvoudig moontlik geleef, maar tog bly ek nederig. Ek het deur die jare kinders in pleegsorg geneem tot hulle ouers self weer vir hulle kon sorg.”
“Ek het ook ’n oopdeurbeleid by my huis vir as enige familielid, vriend of medewerkers ’n slaapplek benodig vir ’n periode om weer op hul voete te kan kom. Ek kan nie bed toe gaan met die wete dat iemand wat ek ken, sal honger wees of koud kry as ek dit kon verhoed het deur deernis te hê en menslik te wees nie. Daarom sal ek doen altyd wat ek kan as ek kan.”
Hoekom Mrs. Africa Classic?
“Ek het altyd geglo dat jy nie ’n boek volgens die omslag kan beoordeel nie en dat jou probleme nie dieselfde is as dié van die persoon langs jou nie. Ek glo as jy iemand in nood kan help om weer op sy of haar voete te kom, sal daardie persoon weet daar is nog goeie mense daar buite.”
“Die afgelope paar maande as finalis was ek meer sigbaar vir die wêreld en het ek my kennis en vaardighede wat ek van kleins af geleer het, gedeel. Ek is mal daaroor om mense te help waar ek moontlik kan, want ek glo vas dat as jy ’n verskil kan maak in net een persoon se lewe, hy of sy dit sal vooruitbetaal en die lewensomstandighede van iemand anders verbeter.”
“Ek het nog altyd verkies om mense te help sonder om my vriendelikheid aan almal bekend te maak, maar ek het met die skoonheidskompetisie geleer dat daar baie mense is wat omgee vir ander. Ek besef daar is soveel goeie mense in die wêreld en ek hoef my vriendelikheid vir niemand weg te steek nie.”
Gemeenskapsprojekte
“Ek is aktief betrokke by verskillende gemeenskapsprojekte en het gehelp by ongeskiktheidsfasiliteite soos Sally Aucamp tuiste vir gestremdes en deur minderbevoorregtes saam met Angel Hearts soup kitchen te voorsien van kos en klere. Ek lê gereeld besoek af by ouetehuise soos Seichoareng assisted living en kinderhuise soos Bophelo-kindersorgsentrum om my sorg en ondersteuning daar te gee. Ek het gesien hoe ’n bietjie liefde en aandag in iemand anders se lewe ’n groot verskil kan maak.”



