Vrywilligers help veld om aftreeoord opruim

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Vrywilligers, onder andere ’n 93-jarige inwoner van Acacia Park-aftreeoord, het vanoggend gehelp om ’n gedeelte van die veld by El Toro Park in Kimberley op te ruim.

Riaan Swanepoel, onderhoudsbestuurder van die oord, het die veldopruimingsprojek in samewerking met Carla Fourie, ’n leefstylkonsultant, begin. 

Swanepoel sê meeste van die papiere wat hulle beoog het om met die projek op te tel, is gister deur sterk winde weggewaai, maar swaarder afval soos glasbottels het egter agtergebly.

Bewolkte weer deur die loop van die oggend het die vrywilligers aangemoedig. Teen die middag is Kimberley met ’n bietjie reën geseën.

Oudste inwoner se geheim is fiksheid 

Fourie sê: “Mnr. Sam Goldblatt is ‘n groot voorbeeld vir ons almal, want op die ouderdom van 93 jaar kan hy vir ‘n paar mense nog ‘n ding of twee leer.”

“Sy geheim sê hy is fiksheid en waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg,” verduidelik sy.

Alzheimersiekte geen verskoning 

“Vir oom Hannes Marais van ons Memory Care-eenheid is nie eers Alzheimersiekte ’n verskoning om te help waar hy kan nie.”

Bedankings

Fourie sê hulle wil elkeen bedank wat met hierdie moeilike taak kom help het. “Onder andere mev. Christine Harding, mnr. Sam Goldblatt, mnr. Ernest Nagel, mev. Edith Marais en haar man, mnr. Hannes Marais. Ook hartlike dank aan ons Acacia-onderhoudspan: Desmond, Elias, Raymond, Mikhail, Johnny en Lynel.”

Albei Fourie en Swanepoel sê hulle is baie trots om deel van Acacia Park en sy mense te wees.

“Hierdie is ‘n plek waar ons kom om te leef,” sluit Fourie af.