Droë en warm somerseisoen word verwag, sê weerdiens

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê warm en droë weerstoestande word hierdie seisoen regoor Suid-Afrika verwag.

Die voorspelde klimaatstoestande weerspieël ’n beroep van die plaaslike regering en die Sol Plaatje-munisipaliteit op gebruikers om water spaarsamig te gebruik.

Bo-normale temperature en ondergemiddelde reënval word hierdie somer vir Suid-Afrika voorspel, sê die weerdiens.

Groot dele van Suid-Afrika is aan die begin van die 2019/20 somerreënvalseisoen in ’n droogtegreep. Gebiede soos Limpopo, KwaZulu-Natal, Noord-Wes, Mpumalanga, Oos-Kaap en die Noord-Kaap word die meeste geraak. Hierdie droogtetoestande strek noordwaarts.

Volgens die weerdiens het die somerreën laat geval en reënval vir September en Oktober was laer as wat aanvanklik verwag was.

Die weerdiens waarsku boere, waterbestuurders en regeringsentiteite om hulleself voor te berei vir enige gevolge wat die somerseisoen waarskynlik mag inhou.

Boonop sal die voorspelde hoë temperature, benewens die onlangse hittegolwe, ook ‘n impak op die mens en dier se gesondheid hê. Gedurende hierdie periode kan daar waarskynlik ‘n groter aanvraag na elektrisiteit vir verkoeling en waterpompe verwag word.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens sal voortgaan om die klimaatstoestande noukeurig te monitor en te kommunikeer.