Kimberley – Reënbuie het tydelike verligting aan Kimberliete gebring nadat sommige inwoners vir bietjie meer as ’n maand elke aand sonder water deurgebring het.
Kimberley sprankel
Ruan Stander van Mobifix sê dit het hewig by hulle kantoor by GWK-park neergestort, maar dit was vinnig verby. “Dit was of iemand ’n kraan voluit oopgedraai het en dit weer vinnig toegemaak het. Dit het my baie beter laat voel,” sê hy.
Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25, sê hy was in Heuwelsig toe die reën geval het. “Ek is saam met almal dankbaar vir die reën. Al is dit min, bring dit lafenis en hoop vir vele meer. Die aarde verskroei en mens en dier ly onder die droogte.”
Inwoners van Kimberley sukkel met water sedert die oorskakeling na die nuwe aanleg by Riverton in September.
Fourie vergelyk die blitsige reënbui wat Kimberley vanmiddag ervaar het met die Bokke se oorwinning in die volgende video.
“HOERAAAA VIR DIE SKIELIKE LAFENIS!!! 😂 😂 Die Ingelse soek nou nóg na die blitsige Bokke. 🤣🤣🤣” skryf Fourie aan FiND iT.
Meer reën verwag
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens word donderstorms vir Woensdag, Saterdag en Sondag voorspel.




