Johan de Jonge is na dese in rugbykringe welbekend. Dié boorling van Suid-Afrika, wat in Gauteng woon, is ‘n geesdriftige All Blacks-ondersteuner.
Hy het vroeër op sy eie Facebook-blad ‘n video gemaak waar hy sê hy sal nie die Springbokke ondersteun nie. “Bokke, wat het Saterdag fout gegaan? Was dit die skeidsregter? Ek hoor dit was die skeidsregter? Ag siestog.”
Verder sê hy in die video: “Julle moet liewer vir julle kaptein leer wat is die heads en tails op ‘n coin. Lyk my hy weet nie.”
Maar wat die Bok-ondersteuners regtig warm onder die kraag gemaak het, was toe hy sê hy hoop Italië “trap julle” en dat Kanada ‘n bonuspunt teen Suid-Afrika aanteken. “Hou aan om ons te vloek, dis hoekom julle span nie geseën sal word met ‘n Wêreldbeker nie.”
Hier is die video:
Sedertdien het Johan sy Facebookprofiel verander, maar die boodskappe en meme’s oor Johan stop nie. Suid-Afrika is kwáád vir die man met die brei wat so ruiterlik sy All Black-span ondersteun.
Martie de Jonge, sy vrou, het Jacaranda FM se Martin Bester gebel en gesê hulle gesin word geteister. Sy het gesê haar kinders word by die skool geboelie en nes die Suid-Afrikaners hulle Bok-span ondersteun, ondersteun hulle ook húlle span.
Dit het nou ook aan die lig gekom dat iemand Johan se nommer op Facebook gesit het, met ‘n bakkie wat hy kwansuis verkoop.
‘n Whatsapp waarop Johan na bewering sê hy verkoop nié ‘n bakkie nié en dat mense hom net wil “terugkry” is aan FiND iT gestuur.
Hier is die video oor dié Whatsapp:
Johan het nie op FiND iT se navrae gereageer nie. FiND iT kon nie bevestig of dit wel Johan is wat op die Whatsapp praat nie.



