KIMBERLEY – ’n Munisipale werker is op video gevang waar hy duskant South Ridge in die Ronaldsvlei-gemeenskap rommel, glo onwettig, stort.
In die video, wat op sosiale media aangestuur word, kan gehoor word hoe ’n inwoner bevestig dit is bourommel en vullissakke.
Volgens ’n boodskap wat die video vergesel, het inwoners gevra dit moet aangespreek word, nadat vullis na bewering op privaat grond gestort is.
Sello Matsie, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê daar is volgens sy kennis geen amptelike stortingsterrein in die gebied aangewys nie. Dit word daarom onder geen omstandighede toegelaat nie.
Matsie sê hy sal dit opvolg.






