INTERNASIONAAL – Google het ’n gogga op die Android-platform herstel wat kuberkrakers in staat gestel het om malware deur middel van Near Field Communications-tegnologie (NFC) te versprei, berig ZDNet, ’n aanlyn tegnologietydskrif.
NFC is ‘n funksie op Android waarmee gebruikers data na nabygeleë toestelle kan stuur. Dit is soortgelyk aan Bluetooth, maar werk oor baie korter afstande, minder as 4 cm.
Normaalweg wanneer ’n verbruiker ’n lêer via NFC ontvang, is daar ’n kennisgewing wat die verbruiker se toestemming vra.
Sekuriteitsnavorsers het egter in Januarie ontdek data wat via NFC op Android 8 of later gestuur word, vra nie vir toestemming nie. Daardeur kon ’n toep met ’n enkele “tap” geïnstalleer word.
Die Android NFC-toep is outomaties met die nodige toestemming verleen, wat kwaadwillige partye in staat stel om die tegnologie te misbruik om kwaadwillige toeps na toestelle in die omgewing sonder toestemming oor te dra.
Google het hierdie probleem in Oktober 2019 herstel, maar gebruikers wat nog nie hul toestelle opgedateer het nie, loop steeds ‘n risiko.
Gebruikers kan ook Android Beam en NFC deaktiveer om te verseker hulle word nie uitgebuit nie.



