KIMBERLEY – Inwoners van verskeie dele van die stad het die dag sonder water aangepak.
Dit is as gevolg van lae damvlakke by Newton-opgaardam en probleme by ’n transformator by die Riverton-aanleg.
Inwoners het hulle frustrasies met die waterkrisis op FiND iT se Facebookblad gedeel. Sommige areas soos De Beers en Galeshewe het glo sedert gister nog nie water ontvang nie. Homestead het na bewering eers na 09:00 water gekry, sê Faren Cedras op Facebook.
Karen Hendricks van Roodepan, sê: “Dit is die tweede oggend sonder water. Dit kom eers na 08:00 aan. Kinders en werkers moet maar plan maak met water. Teen die tyd wat ons tuis kom, is water alreeds af.”
Felicia Mosikare van Vergenoeg sê: “In wyk 11 is daar nie water van gistermiddag tot die oggend vandag nie. Het met die laaste water vanoggend gebad. Hopelik as ek van die werk af kom, gaan daar water wees.”
Ronnelle Basson van Kimberley-Noord sê: “Ons is gereeld sonder water. Die water is af van gistermiddag en dit het eers vanoggend aangekom. Na almal by skool en werk is. Dit is verskriklik erg.”
Chantal van Niekerk sê: (sic) “Dit is sommer ‘n groot frustrasie hoe dink hulle moet ons vuil kinders bad as die water eers die volgende oggend aankom dan nog nie eers te praat van oumense en vrouens wat menstrueer nie. Pleks hulle maar net die water aan hou tot almal van die werk af kom🤬”
Laetitia Stockenstrom sê hulle het omstreeks 05:00 water in New Park gehad.
Suzanne Erasmus Minkley sê Herlear het omstreeks 05:30 water ontvang.
Jaydee Lockhart sê: “Die water het eers voor 06:00 in South Ridge aangekom.”
Sherelda Kleinsmith sê: “Die water het omstreek 06:30 by Florianville deurgekom.”
Dorothy Proudfoot Smith sê die water is aan, maar die waterdruk is egter baie laag in Hadison Park.
Steeds geen water tussen 14:00 en 04:00
Daaglikse watervoorsieningsbeperkings sal voortduur. Watertoevoer sal tot verdere kennisgewing daagliks omstreeks 14:00 gesny word en ongeveer 04:00 soggens hervat word sodat damvlakke by Newton kan herstel.



