PHALABORWA. – Die egpaar wat vroeër dié maand hier deur ’n “mak” njalabul oorrompel is, is nou op die pad na herstel.
Dr. Wessels Boshoff en Barbara Osmers, sy vrou, woon op ’n plaas net buite Phalaborwa.
Die voorval het op 13 Oktober 2019 plaasgevind. Barbara se pelvis is in dié proses gekraak en die bul se horing het deur haar lies gesteek. ’n Horing het in Wessels se maag, net onder die naeltjie, ingesteek.
Zander Osmers (26), Barbara se seun, het vanmiddag aan FiND iT bevestig die egpaar is terug by die huis. “Hulle is laasweek Donderdag ontslaan, maar daar is nog ’n lang pad na herstel wat voorlê. Hulle moet elke dag fisioterapie kry.”
Hy sê hulle het ontslae geraak van die njalabul, waaroor hy voorheen sy ma gewaarsku het.



