KIMBERLEY – Die wateronderbrekings duur voort weens kritiese damvlakke by Newton en uitdagings met die voorsiening van krag by die Riverton-aanleg.
So sê Patrick Mabilo, die uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit.
Luidens ’n persverklaring deur die burgemeesterskantoor het ’n kabel by een van die transformators by die aanleg gebrand. Dit het tot ’n kortsluiting op die hoë hefpompe gelei. Dit het ’n afwisselende patroon in die toevoer van water na die stad veroorsaak.
Mabilo sê gevolglik is die munisipaliteit se pompkapasiteit aansienlik geraak. “Ons tegniese spanne was die hele dag by die aanleg besig om aandag te gee aan die probleem,” sê hy.
Nuwe kragkabels
Nuwe kragkabels is gister geïnstalleer. Sodra die transformator opgestel is, sal die aanleg tot sy volle kapasiteit water aan die stad kan voorsien.
Die uitvoerende direkteur van infrastruktuur saam met sy span van die water- en elektriese afdelings is op die perseel om seker te maak dat die aanleg betyds herstel word. Ten spyte van hierdie uitdaging, word water sedert gistermiddag deur die 600 mm hoofstroom gepomp. Nog het damvlakke by die Newton-opgaardam gedaal, sê Mabilo.
Geen water tussen 14:00 en 04:00
Daaglikse watervoorsieningsbeperkings sal voortduur. Watertoevoer sal tot verdere kennisgewing daagliks omstreeks 14:00 gesny word en ongeveer 04:00 in die oggende hervat word sodat damvlakke by Newton kan herstel.






