KIMBERLEY. – Mark Anthony Rowan Kotze, ’n motiveringspreker, gepubliseerde skrywer van twee boeke en ’n berader, gesels oor die Global Leadership Summit (GLS), wat binnekort hier plaasvind.
Hy sê alhoewel hy nie hierdie jaar die GLS kan bywoon nie, het hy wel die vorige keer baie geleer. “Hulle het verskriklike goeie gassprekers en dit leer jou soveel eienskappe wat jy in jou daaglikse lewe kan toepas.
“Ek voel nie net sekere mense moet hierdie geleentheid bywoon nie; dis gepas op almal. Ek dink ook baie onderwysers, ouers en tot leerders in ’n rol van prefek kan hierby baat vind. Onderwysers gaan gebuk onder baie dinge by sommige skole. Hierdie summit kan onderwysers motiveer en sodoende kan hulle dan ook weer die kinders motiveer. Jy moet leierskap en eienaarskap van jou eie lewe kan neem.”
Alhoewel Mark self al soveel bereik het, maak hy nie graag ’n ophef van wat hy doen nie. “Ek dink tog in ’n mate moet ek ook ’n leier wees. Ek moet skole gaan toespreek, so tog moet hulle my as ’n leier en voorbeeld kan sien.
“Mens moet ander inspireer om ’n positiewe impak op ander te maak,” verduidelik hy.



