Aborsie – die naakte waarheid

Natalie Hayes (28), ’n pastorale berader, skrywer en openbare spreker, praat met FiND iT oor aborsie, genesing en hoop.

Natalie was nie altyd ’n pastorale berader nie. Soos meeste mense het die lewe met haar ook snaakse draaie gemaak en het sy keuses gemaak waaroor sy vandag spyt is. Sy het twee aborsies gehad en hier praat sy oop, eerlik en rou oor hoe dit haar lewe verander het.

Aborsie

“Ek was 21. My lewe het bestaan uit werk, swot en kuier. Ons kantoor was oorkant ’n Engen-vulstasie, dus het ek op Play, koffie en Marlboro Blue Ice-sigarette geleef. Absoluut verslaaf. Al wat ‘beter’ geraak het, was my ego. Die res van die dinge in my lewe, het afdraand gehardloop. Volspoed. Ek het uitgevind ek is swanger.  Ek kry aanvullings. Ek koop ook Gaviscon. Ek is eers okei met die swangerskap. Ek sal my baba hou. Skielik besef ek dat my lewe totaal sal moet verander. En ek sien net nie kans om dit waaraan ek so hard gewerk het, op te offer nie. Ek gaan die beste prokureur wees wat daar is. Dit was my grootste droom. Ek besluit om ’n aborsie te kry.”

“Die verpleegster gee vir my pille en verduidelik die prosedure. Ek luister nie eintlik nie. Maar sy sê ek gaan opgooi, my maag gaan werk en my menstruasie gaan ’n paar dae wees. Dit klink maklik genoeg.”

“Die prosedure begin. Ek gooi op. Terwyl dit bo uitkom, wil my maag werk. Ek kry warm en dan yskoud. Een oomblik lê ek op die bed en gil, die volgende is ek in ’n yskoue stort. Ek het in my hele lewe nog nooit soveel pyn ervaar nie. Nie eers in Rustenburg nie. Verkragting is nie eers ’n vyf teen hierdie twaalf uit tien nie. Ek was nog nooit so alleen nie. Ek wens my ma was hier. Ek wens ek het haar genoeg vertrou om net met haar te praat. Sy sou my help. Ek weet. Wat die hel het ek gedink? Nee, dis die probleem. Ek het nie gedink nie.”

Hoekom aborsie?

“Ek het te veel omgegee oor wat mense van my gaan dink as hulle hoor ek is swanger. Ek wou vir niemand sê wie die pa was nie. Ek het gedink ek sal nie hulp kry nie. My beroep en sosiale lewe was ook te belangrik. Gedink ’n kind sal dinge kompliseer. Dit was die geval in beide situasies. Die eerste aborsie was relatief maklik, mens ken mos nou die proses, so jy gaan dan maar weer. Met beide aborsies het ek amper my lewe verloor. Die fliek Unplanned – dit is presies sò in die werklikheid. Hulle beeld dit absoluut uit soos dit werklik is.”

Gevolge

“Die dag toe my kinders se hartjies ophou klop, het ek saam met hulle doodgegaan. Tot Jesus my opgewek het. Net Hy kan. Ek het vir vyf jaar met verwyte geloop. Myself sò gehaat. Soms is die haat vir jouself onbewustelik, maar jy loop daarmee. Al die vroue met wie ek nog gewerk het, wat aborsies gehad het, se groot emosionele stryd is selfhaat. Ongeag die feit dat jy daarmee deel, jouself vergewe, die man vergewe, die Here vergewe (ja, mens raak vir Hom ook kwaad, al het Hy niks daarmee te doen nie) wonder mens maar altyd oor jou kinders. Myne sou sewe en vyf jaar oud gewees het. Ek het nagte om gelê en huil oor daardie lyfies wat ’n doel gehad het op hierdie aarde. Baie mense sê dat fetusse nie lewe nie. Maar hulle plant dooie saad in die grond en sien bome opkom en groei, wat suurstof gee. Die boom leef. Maar hoe kom jy by die redenasie uit dat daardie kind nie leef nie? Wat as JOU ma jou aborteer het? God is die gewer van lewe, Hy het geweet wat die omstandighede sou wees waaronder jy swanger raak en steeds het Hy gekies om jou te vertrou met daardie geskenk … want daardie kind het ’n doel!”

“Aborsie maak dood. Fisies. Emosioneel en geestelik. Dit vernietig jou menswees. Dit het my fisies siek gemaak. Jy loop altyd met hierdie leemte. Jy kan dit probeer onderdruk en dink jy is okei. Tot op ’n dag, wanneer daardie stoompot se drukking te veel raak en dit ontplof. Jy sien, aborsie maak jou nie “nie-swanger” nie, dit maak jou die ma van ’n dooie baba …”

Lewe omgedraai

“Ek het in 2013, terwyl ek nog besig was om Private Investigation te swot, by ’n prokureurspraktyk te werk en ek ook my eie arbeidskonsultasiebesigheid gehad het, net onverklaarbaar siek geword: flou geword, bloeddruk en bloedsuiker wat fluktureer ens. In my soeke na genesing het ek Jesus ontmoet. Ek het vier jaar tevore ’n verhouding met ’n getroude man gehad, wat sy lewe vir die Here gegee het. Ek het hom gebel en gesê dat ek hulp nodig het. Hy het my aan Jesus voorgestel. En toe eers werklik besef wat ek met my lewe gedoen het…. En ek glo dat die aborsies en ander trauma daartoe gelei het dat my liggaam so siek geword het. Daarna het ek begin om mense te help en te beraad en vir mense te bid wat siek is.”

“Ek is tans besig om ‘n NPO oop te maak, ’n huis vir vroue en meisies. Ons gaan veral fokus op vroue en meisies wat seksueel en fisies mishandel is. Ons gaan ook meisies wat byvoorbeeld op skool swanger word en geen heenkome en hulp het nie, inneem, hulle voorsien van mediese hulp, die nodige berading en ander terapie wat nodig mag wees gee en hulle deur die swangerskap dra en ondersteun. Ons wil hulle help om op hulle voete te kom, ’n werk te kry, sodat hulle vir hulle babas kan voorsien en sorg.”

“Ek is deur baie dinge: molestasie, verkragting, ek is aangemeld as vermis toe ek 15 was. Ek is deur ’n egskeiding. Aborsie is die enigste deel van my lewe wat ek sal wil verander, as ek sou kon teruggaan. Ek sou my kinders gehou het. Ek weet daar is hulp. Daar is altyd. Mens moet bereid wees om te vra. Bereid wees om op te offer.”

“Soms maak ons keuses. Swak keuses. Emosionele keuses. Selfsugtige keuses. En ons dra die gevolge daarvan.”

Boodskap van hoop

“Dit maak nie saak wat jy in jou lewe verkeerd gedoen het nie, jy is nooit te ver heen om terug te draai, hulp en genesing te kry en vry te wees nie, jy moet net bereid wees. En soms moet jy bereid wees om te erken dat jy hulp nodig het, en vra. Jy is gebore vir ‘n rede. Die planne vir jou lewe is groter, beter en mooier as wat jy ooit kan dink, droom of hoop. As God jou gebreekte vlerke vat, kan jy ook vlieg!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *