BEACONSFIELD – ’n Inwoner van Broadwayweg in Beaconsfield sukkel na bewering die afgelope twee weke met riool wat in hulle huis se toilet teruggestoot word.
Zelda Jacobs, die inwoner, sê werkers van Sol Plaatje-munisipaliteit het die blokkasie oopgemaak, maar ’n paar uur later is dit weer geblok.
Sy sê hulle het verskeie kere die probleem aan Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25, rapporteer. Hulle is baie dankbaar vir Fourie se moeite wat gesorg het die probleem kry aandag.
Die watervlak stoot gelyk op met die rand van die toilet, sê Jacobs. “Ek dink regtig die munisipaliteit kan meer doen om die probleem permanent op te klaar.”
“Dit is baie onhigiënies en ons gesin kon vir die afgelope twee weke nie die toilet normaal gebruik nie.”
“Ek is bang dit loop oor terwyl ons van die huis af weg is,” sê Jacobs.



