Man vir vervaardiging van dobbelmasjiene gevang

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-WES – Zehao Zehong (29) is op Mahikeng vir die beweerde vervaardiging van onwettige dobbelmasjiene in hegtenis geneem.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, polisiewoordvoerder, sê Zehong is op 25 Augustus gearresteer. Dit volg op ’n klopjag op onwettige dobbelary deur die Valke, blitspatrollie, departement van binnelandse sake en die dobbelraad.

Die verdagte, wat na bewering dobbelmasjiene onwettig vervaardig, is ingevolge artikel 60 en 82 van die Dobbelwet aangekla.

Zehong is ook vir die besit van ietermagog- en luislangvelle, wat tydens die klopjag gevind is, aangekla.

Beslag is gelê op 59 dobbelmasjiene, verskeie toerusting en kontant.

Die beskuldigde is op borgtog van R3000 in die Mmabatho-landdroshof vrygelaat. Die saak is tot 17 Januarie 2020 vir verdere ondersoek uitgestel.