Ongerymdhede by verhoor op nasionale gesondheidsversekering

Deel hierdie storie / Share this story

MPUMALANGA – Verteenwoordigers van Afriforum het na bewering verskeie ongerymdhede by ’n openbare verhoor oor die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) in Mpumalanga opgemerk, sê die burgerregteorganisasie.

Dit volg nadat AfriForum sy misnoeë uitgespreek het met die verloop van die openbare verhore oor die NGV. Hulle gaan nou ook regsadvies inwin oor die onbillike prosedures van die proses tot dusver. 

Luidens ’n persverklaring deur AfriForum was daar verskeie prosedure-probleme met die verhore wat deur die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid vanaf 25 tot 28 Oktober in Mpumalanga gehou was.

Die burgerregteorganisasie sê die verhore is veronderstel om objektief te wees om die gemeenskap se werklike gevoel oor NGV te kry. 

AfriForum-verteenwoordigers wat die verhore in Mpumalanga bygewoon het, het egter verskeie ongerymdhede opgemerk. 

Dit sluit in:

  • Pamflette (slegs in Zoeloe gedruk) wat die ANC se perspektief oor NGV weergee, is op die stoele by die lokale uitgepak.
  • Die lokaal vir die verhoor op Secunda is op dieselfde dag na Ermelo geskuif sonder om enigsins hierdie verandering te kommunikeer (AfriForum het gelukkig van die verandering te wete gekom).
  • Maandagaand (28 Oktober) se vergadering het ’n uur en ’n half voor die geskeduleerde tyd geëindig, nadat die komitee aangedui het dat hulle na Johannesburg moes terugkeer om vir die verhore in die Noord-Kaap voor die berei. Dit het daartoe gelei dat AfriForum nie ’n spreekbeurt gekry het nie.
  • Verrigtinge het slegs in Zoeloe plaasgevind en daar was geen tolke beskikbaar nie.
  • Groot dorpsgebiede is by die proses uitgesluit, omdat geen openbare verhore daar plaasgevind het nie. Dus is die grootste gedeelte van belastingbetalers in die provinsie van die proses uitgesluit, terwyl dit juis dié mense is van wie daar verwag gaan word om NGV te help befonds.
  • Dit is duidelik dat die plekke wat gekies is vir hierdie openbare verhore om plaas te vind meestal in wyke geleë is waar die regerende party meer steun geniet.
  • Dit wil voorkom asof daar geen of baie min bemarking gedoen is om die publiek van hierdie openbare verhore in te lig.

Volgens Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir NGV, blyk dit dat die openbare proses om die publiek se insette te kry van die begin af gemanipuleer word om ’n uitkoms te kry wat die implementering van NGV bevorder.

“Hierdie proses is nie die plek vir die ANC om sy pro-NGV-agenda te dryf of propaganda aan die publiek te versprei nie. Die pamflette wat die komitee aan die publiek versprei het, kommunikeer slegs die regering se vals beloftes dat NGV die antwoord op al die land se gesondheidsprobleme is. Dit maak egter geen melding van die massiewe gebreke wat hierdie voorgestelde stelsel inhou of die feit dat dit onbekostigbaar is nie,” sê Venter.

AfriForum gaan die openbare verhore van 1 tot 4 November 2019 in die Noord-Kaap bywoon en beoog ook om die verhore in ander provinsies (wat nog nie bekend gemaak is nie) by te woon. AfriForum hou ook hierdie week gemeenskapsvergaderings in die Noord-Kaap om die gemeenskap oor die gevare van NGV bewus te maak en om hulle aan te moedig om die verhore by te woon.