INTERNASIONAAL – Facebook het ingestem om ‘n boete van £500 000 wat deur die VK se waghond vir databeskerming opgelê is, te betaal vir sy rol in die Cambridge Analytica-skandaal.
Cambridge Analytica is die politieke konsultasiefirma wat data van 87 miljoen Facebook-profiele geoes het toe hulle aan die Trump-veldtog gewerk het.
Volgens die Britse koerant, BBC, het Facebook oorspronklik teen die boete geappelleer, wat veroorsaak het dat die kantoor van die inligtingskommissaris (ICO) sy eie teenappèl voorgelê het.
As deel van die ooreenkoms het Facebook geen aanspreeklikheid erken nie.
Facebook het voorheen gesê hulle het meer gedoen om die voorval met Cambridge Analytica te ondersoek.
James Dipple-Johnstone, adjunkkommissaris van die ICO, het aan BBC gesê: “Ons grootste bekommernis is vir data van Britse burgers wat blootgestel is. Die beskerming van persoonlike inligting en privaatheid is van uiterste belang, nie net vir die regte van individue nie, maar ook vir die beskerming van demokrasie.”



