Kommer oor 60% afname in brilpikkewyne in SA

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – ’n Afwaartse neiging in die bevolking van die brilpikkewyn (spheniscus demersus) in Suid-Afrika is ’n bekommernis, sê die departement van landbou, bosbou en visserye. 

Zolile Nqayi, woordvoerder by die nasionale departement, sê dit volg op bevindinge deur navorsing wat van die spesie gedoen is.

Afname van 50% in drie geslagte

Die spesie het die afgelope 30 jaar met meer as 60% afgeneem. Die drie jongste geslagte se bevolking het met meer as 50% gedaal. Die brilpikkewyn kom voor in drie gebiede langs die Weskus.

Wetsontwerp om in te gryp

Die departement het onlangs ’n konsep-biodiversiteitsbestuursplan vir die brilpikkewyn bekend gemaak.

Die doel van die wetsontwerp is om voort te gaan met ’n plan wat in 2013 begin is, en daarop te verbeter om in te gryp teen die vinnige afname van die spesie.

Nqayi sê die tweede wetsontwerp sal voortgaan om die verskillende bewaringsinisiatiewe van Suid-Afrikaanse agentskappe te koördineer en daarop te fokus om die spesie te herwin. 

Dit sal ook Suid-Afrika se bydrae tot internasionale pogings om die bewaringstatus van die brilpikkewyne, soos die African Eurasian Waterbird Agreement (AEWA), te vergemaklik, terwyl ander agentskappe, waaronder NRO’s en akademiese instellings, wesenlik sal bydra tot die verbetering van die bewaringstatus van die spesie deur navorsing, rehabilitasie en ander aktiwiteite.

Enigste pikkewyn endemies tot Suid-Afrika

Dit is die enigste bestaande pikkewyn in Afrika en is endemies tot Namibië en Suid-Afrika. Dit was voorheen die volopste seevoël in die ekosisteem in Benguela, maar na die groot afname van die spesie in die 20ste eeu en ‘n ineenstorting van die Suid-Afrikaanse bevolking die afgelope jaar, word die brilpikkewyn nou as ’n bedreigde spesie geklassifiseer.