Die waarheid is, ongeag hoe baie jy van alkohol hou, dit in byna alle opsigte slegte dinge aan jou liggaam en brein doen. Hier is wat wetenskaplikes te sê het oor wat waarskynlik met jou liggaam kan gebeur as jy ophou alkohol gebruik.
Volgens vice.com kan die volgende gebeur:
Jou immuunstelsel sal meer effektief wees
Om te gereeld en te veel te drink, hou baie verband met verskeie immuunverwante gevolge. Drinkers het gemiddeld ’n hoër vatbaarheid vir longontsteking en ander asemhalingsversteurings, ’n groter kans op komplikasies en swak wondgenesing na ’n operasie, ’n hoër voorkoms van sepsis en sekere kankers.
Jy sal beter slaap
Alkohol is ’n onderdrukker, wat beteken dat dit die liggaamsfunksies vertraag en van nature slaperig maak, maar word ook geassosieer met ontwrigte slaap omdat die liggaam oortyd werk om dit te metaboliseer. ’n Paar drankies sal jou help om vinnig aan die slaap te raak, maar sodra jou liggaam dit alles gemetaboliseer het, sal jy waarskynlik wakker word of ‘n slegter slaapkwaliteit hê.
Dit kan vrugbaarheid by vroue beïnvloed
Daar is minder sprake van alkohol se effek op vrugbaarheid. Volgens yourfertility.org.au kan matige alkoholgebruik die kans op swangerskap verminder. Swaar alkoholgebruik kan die tyd verleng wat dit neem om swanger te raak en verminder die kanse om ’n gesonde baba te hê. Dit is nie duidelik hoe die drink van klein hoeveelhede alkohol ongebore babas beïnvloed nie, maar dit is welbekend dat die drink van groot hoeveelhede skadelik kan wees.
Jou vel sal waarskynlik beter lyk
Alkohol is ’n diuretikum wat beteken dat jy meer vloeistof uitskei as wat jy sou as jy water sou drink. As jy twee keer meer urineer, kan jou liggaam nie water uit jou urine in die niere haal nie. Jou vel kan dan droog, dof en vaal voorkom.



