Grysmark kook met eindstrydkaartjies vir rugbywêreldbeker

Deel hierdie storie / Share this story

INTERNASIONAAL – Rugbyaanhangers wat hoop om ’n kaartjie te koop vir die rugbywêreldbeker-eindstryd in Japan kan verwag om tot soveel as R75 000 per kaartjie te betaal.

Volgens ’n berig deur Reuters verkoop kaartjies vir die eindstryd vir tussen 800 tot 4000 pond op derdeparty verkoopswebwerwe.

Verskeie Engelse kaartjiesmouse wat by die wêreld se belangrikste sportbyeenkomste werk, het oor die naweek in die strate van Tokio en Yokohama 2 000 pond per kaartjie gevra. Dit nog voordat die Bokke Wallis geklop het om die eindstryd te haal.

Saterdag is die eerste verskyning in die eindstryd vir beide Suid-Afrika en Engeland sedert hulle in 2007 in Parys teen mekaar gespeel het, ‘n wedstryd wat Suid-Afrika gewen het.

Die organiseerders van die rugbywêreldbeker het gesê ondersteuners met kaartjies wat nie by amptelike verkopers gekoop is nie, gaan by stadions weggewys word, maar daar was nie veel berigte van sulke voorvalle nie.

Kaartjiewebwerwe soos Viagogo en Stubhub het gesê hulle bied terugbetalings aan aanhangers wie se kaartjies by die hek geweier word.