Afriforum vervolg oor “ongegronde klag” oor k-woord

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-ARIKA – Die burgerregte-organisasie AfriForum wil ’n werknemer vervolg wat glo ’n vals klag oor die k-woord teen sy werkgewer ingedien het.

Luidens ’n persverklaring deur AfriForum het hul privaatvervolgingseenheid ’n aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat gebring om ’n werknemer privaat te vervolg wat na bewering bedrieglike klagtes van rassisme teen sy kollega by die polisie ingedien het. 

Volgens AfriFroum het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier om die klaer te vervolg.

“AfriForum is van voorneme om Sello Mojela privaat te vervolg vir crimen injuria nadat hy valslik ’n klag van rassisme teen sy kollega André Fourie ingedien het. Dit sal deel vorm van ’n groter veldtog deur AfriForum teen bedrieglike klagtes van rassisme.”

“Dit volg nadat Mojela by die werksplek ná ’n meningsverskil met Fourie valslik aangevoer het dat Fourie hom (Mojela) ’n ‘bobbejaan’ genoem het – hy het dit ook skriftelik aangedui in die werk se grieweprosedure. Daarna het Mojela egter sy weergawe verander toe hy op grond van die voorval ’n klag by die polisie gaan lê het en in sy eedverklaring valslik aangevoer dat Fourie hom die k-woord genoem het,” lui die persverklaring.

Fourie het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader wat hom geadviseer het om klagtes van crimen injuria teen Mojela by die polisie in te dien. Dit volg nadat Fourie se werkgewer hom glo afgedank het en die polisie hom in hegtenis wou neem.

Die polisie het die saak ondersoek en na die NVG vir vervolging verwys. Die NVG het egter geweier om Mojela te vervolg.

“Die NVG se versuim om vervolging in Fourie se saak in te stel, is nie net ’n verydeling van die reg nie, maar ’n bedreiging vir sosiale samehorigheid in die land, aangesien vals aantygings soos hierdie rassespanning in die land verder aanvuur,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

Volgens Roets het Fourie se reputasie daadwerklike skade gely as gevolg van Mojela se vals aantygings.

“Dit is onaanvaarbaar dat mense wat vals bewerings van rassisme maak skotvry daarvan afkom, terwyl dit verreikende en nadelige gevolge inhou vir diegene teen wie dit gerig word. Dit stuur die verkeerde boodskap aan die samelewing uit en kan aanleiding daartoe gee dat nóg sulke ongegronde aantygings gemaak word,” sê Roets.