Paramedikus 28 keer vir beursie gesteek

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Nico Stapelberg, ’n paramedikus van Pretoria, is Vrydag ernstig beseer toe hy in die Noord-Kaap aangeval en 28 keer vir sy beursie gesteek is.

Volgens die Pretoria North REKORD was Stapelberg op pad huis toe van ‘n sakereis in die Noord-Kaap toe hy op 25 Oktober by ‘n kafee gestop het om verversings te koop.

“Die volgende oomblik het vier mans vanuit nêrens gekom en my beursie geëis,” het Stapelberg aan REKORD verduidelik.

Hy was nog in sy uniform toe hy aangeval was. Stapelberg sê een verdagte het sy selfoon geëis. Die verdagte het hom verskeie kere met ‘n skerp voorwerp gesteek. 

Die verdagtes het met sy sonbril en beursie gevlug. 

“Ek het noodhulp op myself toegepas terwyl ek gery het om hulp te soek. Ek het ook my eie drup ingesit.”

Hy het daarin geslaag om ’n sekuriteitsfirma van Orania se hulp te bekom wat gehelp het om hom veilig tot op die dorp te bring waar hy gestabiliseer is voordat hy na die Gariep Mediclinic in Kimberley gebring is.

Stapelberg was tot Sondag in die intensiewesorgeenheid en herstel tans in ‘n algemene afdeling.

Stapelberg het gesê hy sal voortgaan om ‘n verskil te maak in mense se lewens deur sy werk. “Ek het weer gesien hoe basiese noodhulp ‘n lewe kan red. Ek sal nooit ophou nie.”