KIMBERLEY. – Johan Barnard (75) bou en herstel al vir die laaste 15 jaar modelvliegtuie saam met sy seun.
Johan sê dit was nog altyd ’n stokperdjie wat hy en sy seun, Jan (51), saam na ure kon doen. “Ons bou of herstel gewoonlik die vliegtuie deur die week as ons rustig by die huis is.”
Alhoewel hierdie vliegtuie al vir meer as ’n dekade hierdie twee mans se stokperdjie is, sê Johan dit kan baie duur wees. “Ons probeer altyd die vliegtuie op goedkoper plekke aankoop of die onderdele vir die vliegtuie invoer. Ons kry baie van die onderdele wat van China afkomstig is aanlyn.
“Ons het tans 51 verskillende vliegtuie wat ons self gebou of herstel het en ons vlieg party van hierdie vliegtuie oor naweke en behoort aan die Kimberley Model Aircraft Club.”




