NOORD-WES – Die polisie in die Noord-Wes het tussen Vrydag 25 en Sondag 27 Oktober 344 verdagtes vir verskeie misdade in die provinsie in hegtenis geneem.
Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê van die 344 inhegtenisnemings was 26 vir kontakmisdade, wat moord, verkragting, aanranding met die opset om ernstig te beseer, algemene roof, seksuele aanranding, algemene aanranding en poging tot verkragting insluit.
Die ander verdagtes is vir ander misdade soos bestuur onder die invloed van alkohol of dwelmmiddels en drankmisdrywe gearresteer, sê Mokgwabone.
Van hulle is 122 in hegtenis geneem vir drink in die openbaar, ses vir dronk op straat en 15 vir die onwettige handeldryf met drank.
Die polisie het beslag gelê op twee pistole, ’n magasyn, 19 patrone, 194 liter alkohol en sewe messe. Gedurende die operasie is 62 boetes, waarvan 40 vir oortreding van die padreëls is, opgelê.
Lt.-genl. Baile Motswenyane het die arrestasies verwelkom. Die polisie sal voortgaan om kriminele oortredings te ontmoedig en te sorg dat oortreders suksesvol vervolg word, sluit Mokgwabone af.



