SUID-AFRIKA. – Die Springbokke het gister hulle plek in die Wêreldbeker finaal verseker na hulle in die semi-finaal teen Wallis gewen het.
Rassie Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, het die Springbok-spelers geëer vir die feit dat hulle Suid-Afrika na ’n derde Wêreldbeker-eindstryd in Yokohama gedra het.
“Die Springbokke was nooit agter in die wen van 19-16 nie, maar Wallis het geweier om afgeskud te word totdat Handré Pollard, die man-van-die-wedstryd, met net vyf minute oor, ‘n vierde strafskop oorgeklits het.”
Hy sê Damian de Allende het ook ’n drie gedruk, deur die spanne van 1995 en 2007 na te boots om die eindstryd van die Wêreldbeker te haal.
Wêreldrugby
“Ons het nog altyd die potensiaal gehad om ’n krag in wêreldrugby te wees en histories was ons ook, maar ons het die afgelope paar seisoene deur moeilike tye gegaan,” het Erasmus gesê.
Oorwinnings deur Nieu-Seeland en Ierland, ’n eerste oorwinning deur Italië en ’n toer deur Europa het alles gelei tot die bewering dat Springbok-rugby teen die einde van 2017 dood sal wees.
Professionele rugbyspeler
“Die manier waarop die spelers die afgelope twee en ’n halfjaar die verantwoordelikheid geneem het om baie professioneel te wees en die eienaarskap te aanvaar van wat dit beteken om ’n professionele rugbyspeler te wees, was die grootste verskil,” verduidelik hy. “Daar was ’n stadium in Suid-Afrikaanse rugby waar hulle slegs professionele rugby gespeel het vir die salaris, maar ek dink die spelers verstaan tans dat as hulle ’n professionele rugbyspeler wil wees, hulle regtig hard moet werk.”
Hy sê hy was verbaas, omdat hulle ’n paar veranderinge moes aanbring en hy nie so ’n vinnige transformasie verwag het nie.
Stelsel
“Ons het die regulasies vir die gebruik van oorsese spelers verander: ons moes met die franchises praat om kondisioneringstandaarde dieselfde te kry, ons moes Vodacom Super Rugby-afrigters kry om saam te werk. Wat my verbaas het, was dat hulle die hele stelsel aanvaar het, want dit neem gewoonlik jare voordat hulle begin saamwerk.
“Ons is egter nou eers in die eindstryd, so kom ons kyk hoe dit gaan en dan weet ons regtig of ons die spel omgedraai het soos ons wou.”
Finaal
Die Springbokke pak Saterdag om 11:00 (SA-tyd) vir Engeland in die Yokohama Internasionale stadion.



