KIMBERLEY – Ken jy die verskil tussen motte en vlinders of skoenlappers en hulle ruspes? Albei behoort aan die insekfamilie, maar verskil van wurms.
So sê Beryl Wilson, departementshoof van dierkunde by die McGregor-museum in Kimberley.
“Albei begin hul lewens as honger ruspes nadat die larwes uit eiers broei wat deur hul vlieënde ouers gelê is. Hulle omskep hulself heeltemal tot hul vlieënde vorms as volwassenes,” sê sy.
Terwyl ruspes soms as ’n pes beskou word omrede dit skade aan vrugte en groente aanrig, verander hulle in belangrike bestuiwers van plante vir vrugte en sade wat geproduseer word.
Ruspes is nie wurms nie – daar is ’n groot verskil
Wilson sê daar is ’n groot verskil tussen ruspes en wurms. Wurms is buisvormige ongewerwelde diere. Hulle ondergaan nie ’n transformasie soos ruspes nie.
Ruspes het bene terwyl wurms nooit bene het nie, sê sy. Wurms bly ook ondergronds. ’n Goeie voorbeeld is ’n erdwurm, terwyl ruspes baie aktief bo die grond bly.
Verskille tussen vlinders en motte
Vlinders rus met hul vlerke in ‘n regop posisie (toe), terwyl motte met hul vlerke oop rus.
Vlinders is gewoonlik deur die dag aktief, terwyl motte naglewend is.
Die antenna van skoenlappers is lank en dun met voetvormige punte, terwyl motte s’n kort en dik is en soms soos vere lyk.
Motte het ore en kan geluide hoor, terwyl skoenlappers nie geluide hoor nie, maar van hul vlerke gebruik maak om vibrasies te voel.
Vlinders suig aan vloeistowwe soos water of nektar van blomme, terwyl motte nooit eet nie, maar oorleef van vet wat tydens die papale stadium gestoor is.
Hulle reguleer hul liggaamstemperatuur baie verskillend. Skoenlappers bak in die son, maar ‘n mot beweeg sy vlerke om warm te bly. Motte is ook harig, wat help om hitte te behou. Die struktuur van motte se liggame kan die sonar van vlermuise, wat daarop voed, beïnvloed en hulle verwar.
Grootste bedreiging vir vlinders
Wilson sê die grootste bedreigings vir vlinders en motte is habitatverandering en -verlies as gevolg van residensiële, kommersiële en landbou-ontwikkeling.
Klimaatsverandering
Klimaatsverandering, wydverspreide gebruik van plaagdoders en indringerspesies bedreig ook baie spesies vanweë beide direkte en indirekte impak wat dit op inheemse gasheerplante het.
Kunsmatige beligting
Wilson sê dis ook bewys kunsmatige beligting kan baie problematies wees vir nagspesies, aangesien dit hul navigasie en gedrag wat verband hou met maanfases soos voeding en paring, belemmer.
Bestuiwers byna uitgewis
Wilson sê in die afgelope jaar het massapopulasies van bestuiwers en insekte soos vlinders, motte en bye uitwissing in die gesig gestaar.
Uiters belangrik vir produseer van gewasse
Hierdie bestuiwers is uiters belangrik. Sonder hulle sal mense nie sjokolade, appels, koffie en ander kosse kan geniet wat noodsaaklik geword het in ons daaglikse bestaan nie, verduidelik Wilson.
Byna 75% van die voedselgewasse wêreldwyd is afhanklik van hierdie bestuiwers. Die insekete se gesondheid beïnvloed voedselproduksie. Kenners sê ook die landbou se afhanklikheid van bestuiwing het die afgelope 50 jaar met 300% toegeneem.
Wilson sê vlinders en motte is ook ’n belangrike teken van ‘n gesonde omgewing en ekosisteme. Streke met ‘n gesonde vlinder- en motpopulasie is byvoorbeeld ook ryk aan ander ongewerwelde diere. Gesamentlik lei die stabiliteit tot groot voordele in die omgewing, soos natuurlike plaagbeheer en gesonde bestuiwing.
Beskadiging van tuinplante “noodsaaklik”
Hoewel ruspes tuinplante kan beskadig, is hul volwasse eweknieë noodsaaklik vir ‘n gesonde ekosisteem en vir biodiversiteit. Motte is saans ’n oorlas in die somer wanneer hulle om ligte swerm.
Eerder as om ‘n plaagdoder of ‘n “zapper” buite te gebruik, moet ons eerder onnodige ligte afskakel en dit oorweeg om ’n sif te gebruik voor vensters en deure wat weens die hitte oop bly, maan Wilson.
Die beenlose akkedis
Hier is nog ’n voorbeeld van diere wat soos wurms lyk, maar die Kaapse graafwurm-akkedisse verskil van wurms en is van die akkedisfamilie afkomstig.
Dit woon heeltemal ondergronds en dit is die rede waarom dit geen pigment of oë het nie.
Dit word gewoonlik blootgestel tydens opgrawings, padkonstruksie of wanneer grond omgeploeg word. Die akkedis word ook soms na die oppervlak gedryf deur swaar reën en oorstromings of self wanneer hulle deur miere aangeval word.
Hulle voed uitsluitlik op termiete en inseklarwes. Met die graafvormige snuit kan hulle baie goed deur selfs harde grond grawe. Dit is natuurlik heeltemal skadeloos vir mense omdat dit ‘n akkedis is en nie giftig is nie, sê Wilson.








