Tekort aan personeel by hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

UPINGTON – Die DA in die Noord-Kaap doen ‘n beroep op Mase Manopole, LUR vir gesondheid, om die gebrek aan verpleegsorg aan pasiënte by die Dr. Harry Surtie-hospitaal op Upington dringend aan te spreek.

Andrew Louw, provinsiale leier van die DA, sê dit kom nadat ‘n bejaarde inwoner tydens haar verblyf in die hospitaal aaklige bedsere ontwikkel het. 

Die 61-jarige pasiënt, wat aan kanker gely het, het sedert 2003 nooit bedsere in die ouetehuis waar sy versorg was opgedoen nie. Die personeel daar het altyd gesorg bedlêende inwoners word elke uur omgedraai en salf gesmeer, sê Louw.

Die pasiënt, wie se naam aan die DA bekend is, is glo uit die hospitaal ontslaan sonder dat die dokter bewus gemaak is van die sere wat sy ontwikkel het.

Louw sê personeel by die ouetehuis het gehuil toe hulle die gapende wonde wat die inwoner in die vyf dae by die hospitaal opgedoen het, gesien het.

“Die pasiënt het na die hospitaal teruggekeer om mediese behandeling te kry, maar die wonde het net vererger. Haar lyding het in die laaste dae voor haar uiteindelike dood vererger,” sê hy.

“Dit is nie die eerste inwoner van die ouetehuis wat bedblase by die hospitaal ontwikkel het nie. Die ouetehuis het onlangs ses maande geneem om die sere van ‘n vorige pasiënt in die hospitaal te genees.”

Die DA is bewus daarvan dat formele klagtes oor die voorvalle by die hospitaal gemaak is. ”Ons sal wag om die uitslag van die sake te hoor,” sê Louw.