Petroljoggies kry 10 jaar vir halfmiljoen se brandstofbedrog

Deel hierdie storie / Share this story

REITZ – Twee voormalige petroljoggies, Teboho Mokoena (33) en Bambalephi Victor Majola (39) van Reitz is elk tot tien jaar tronkstraf gevonnis oor brandstofbedrog nadat hulle versuim het om die geld terug te betaal.

A.o. Lynda Steyn, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê Makoena en Majola is in 2016 deur die Valke vir petrolkaartbedrog in hegtenis geneem. Hulle is twee jaar gelede voor ’n hof op aanklag van bedrog skuldig bevind en is tien jaar tronkstraf opgelê.

Steyn sê die twee mans het petrolkaartbesonderhede wat aan die Nketoana-munisipaliteit behoort, gebruik om onwettige transaksies uit te voer. Die munisipaliteit en die vulstasie het R477 040 met bedrieglike transaksies verloor.

Hulle tronkstraf is vir vyf jaar opgeskort en hulle is deur die hof beveel om die geld in paaiemente van R100 000 terug te betaal. Die eerste paaiement was op 30 Oktober 2017 betaalbaar, maar die beskuldigdes het nie daaraan voldoen nie.

’n Lasbrief is uitgereik en die verdagtes is op 18 Oktober in Petsana op Reitz in hegtenis geneem. Hulle is voor ’n hof gebring, waarna hulle onderskeidelik elkeen tien jaar tronkstraf opgelê is.