Inbraak met bediende en baba tuis

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Twee mans het vanoggend by ’n huis in Jawnostraat probeer inbreek, terwyl die gesin se bediende en 18 maande oue baba binne-in die huis was.

Willem Nel, die eienaar van die huis, sê dit het omstreeks 10:00 vanoggend plaasgevind.

Twee mans

“Twee mans het oor die muur geklim en reeds van die besittings, wat buite was, teen die muur gesit om oor te tel. Ons bediende was besig om wasgoed op te hang en het gesien die hekkie na die swembad is oop, wat gewoonlik altyd toegehou word. Sy het gegaan om die hekkie toe te maak, toe sy die twee mans sien.”

Skok

Nel sê sy het só groot geskrik en dadelik na die huis gehardloop. “Die twee verdagtes het net so groot soos sy geskrik en ook weggehardloop. Sy het dadelik my vrou gebel en my vrou het weer dadelik ’n boodskap op die buurtwag-groep gestuur en het my toe gebel.”

Nel sê toe hy by die huis aankom ’n paar minute later, was die polisie reeds by die huis. “Ons het ongelooflike diens van die polisie ontvang.

Voetafdrukke

“Ons kan sien dit is kleinerige mans, omdat hulle voetafdrukke wat op die erf is, ook nie baie groot is nie.”

Tydens FiND iT se besoek aan die huis, was die polisie steeds besig om die verklarings af te neem.