Boks vir ’n Boervrou is ’n projek wat begin is in die skadu van die groot droogte wat boere regoor Suid-Afrika raak.
Hoop vir boervrouens
Anneke Kruger, wat help met die insameling van die bokse, sê: “Daar is meer as 6 000 boere wat onder die droogte deurloop. Die VLV van Wellington het toe ’n bederfpakkie-projek vir boervrouens begin. Ons almal weet die ma is die hartklop van die huis en dit is ook so op elke plaas. So ons help bederfpakkies insamel vir elke boervrou in die land waar die droogte uitmergelend is. Sommige van die vroue het nie eers meer iets so vanselfsprekend soos skottelgoedseep nie. Koffie is nou ’n totale luuksheid en daar is selfs kinders in koshuise wat nie kan plaas toe gaan nie omdat mammas nie diesel kan bekostig om hul kinders te gaan haal nie. Ek dink nie ons sal ooit die omvang van die droogte kan verstaan nie. Dit is baie wyd en swaar. Noord-Kaap, Boesmanland, Namakwaland, Weskus, Oos-Kaap, sommige dele van die Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo word geraak. Ons wat nie op plase grootgeword het nie, sal nooit verstaan hoe so ’n droogte mens kan stroop van elke sent, grond en ook jou trots nie. Want nou ewe skielik moet sommige boere in ’n ry gaan staan vir basiese kosbenodighede.”
1 000 vanaf Kimberley
“Die VLV Wellington is slegs die organiseerders van die projek. Daar gaan na elke area in SA wat onder die droogte deurloop ’n pakkie gestuur word. ’n Pakkie van hoop, ’n klein stukkie bemoediging, ’n klein bietjie troos dat daar iewers in die land iemand is wat vir hulle bid.”
“My wens is om 1 000 bokse van Kimberley af te stuur. Ek hoop regtig ons kan hande vat met almal wat bokse insamel sodat ons kan seker maak dat elke liewe boervrou ten minste een pakkie van hoop kan kry.”
Wat jy in ’n boks kan sit
Sjampoe. Tandepasta. Lekkerruikgoed vir hom en haar. Lekkergoed wat nie smelt of breek nie. Jellie. Speserye. Kitspap. Noedels. Tuna. Kondensmelk. Dettol. Watte. Vitamiene. Bruistablette. Tydskrifte. Penne en potlode. Pleisters. Panado’s. Cuppuccino-sakkies. Soppoeier. Blikkieskos. Lipstiffie of mooi serpie. ’n Vatlap/vadoek/ afdroogdoek. Sneesdoekies. Haarrekkies. Maskara. Voetskuurders. Skeermesse. Jy mag insit wat jou sak pas. Dit kan in ’n skoenboks of 6-bottel wynboks gesit en toegedraai word met bruinpapier of koerantpapier en met ‘n lint vasgemaak word. Geen name moet op of in die bokse gesit word nie. Die Boks vir ’n Boervrou gaan die bokse versprei.
Waar jy jou boks kan gaan aflaai
Conradstraat 1
New Park
Kimberley
Anneke: 082 425 4943





