Man klap vrou in vliegtuig – word afgegooi

Deel hierdie storie / Share this story

LANSERIA – ’n Manlike passasier op ’n Mango-vlug, JE709, is ná ’n onderonsie met ’n lugwaardin van die vliegtuig afgesit nadat hy ’n vrou deur haar gesig geklap het.

Carol van der Linde, ’n inwoner van Kaapstad, het die onderonsie op video opgeneem en dit op haar eie Facebook-profiel gedeel.

Volgens haar het sy die aggressiewe man begin afneem nadat die lugwaardin hom gevra het om na die stoel waarop hy oorspronklik gesit het te skuif.

Van der Linde beweer die man het voorgegee hy kan nie Engels praat of verstaan nie. Sy het vir die man gesê hy het nounet Engels gepraat toe hy van stoele verwissel het. 

Sy het hom gemaan om te doen wat die lugwaardin van hom vra, omdat die prosedures van die nooduitgang reeds aan haar verduidelik is. 

Gary Broomberg, ’n passasier, het tot Van der Linde se hulp gekom. Sy het hom in ’n plasing op haar Facebook-profiel bedank.

Sekuriteit het die man glo oor sy wangedrag en kru taal verwyder nadat hy haar geklap het, sê van der Linde .

In die video vloek die man vir Van der Linde voordat hy na haar kant toe met sy linkerhand klap.

Gary Broomberg en Carol van der Linde.