Twee verdagte mans het na bewering bankkaarte van ‘n inwoner onregmatig gebruik.
Dié kaarte is glo Donderdag uit ‘n inwoner se motor gesteel.
“Ek het my kaarte gestop, maar steeds het transaksies deurgegaan. Ek het gesien ‘n transaksie het Vrydagaand by PGC deurgegaan. Hulle het vir my ‘n skermgreep gestuur van die persoon wat die kaart gebruik het.” Die inwoner het Saterdagoggend weer ‘n SMS, wat gewys het die verdagte het die kaart by Spar gebruik, van die bank gekry.
Die inwoner het die polisie gebel waarna inligting opgevolg is en ‘n verdagte in hegtenis geneem is. Dié verdagte het die polisie na die tweede verdagte gelei.
Lt.-kol. Dimakatso Mooi, het bevestig die polisie ondersoek ’n saak van bedrog en diefstal nadat twee verdagtes in hegtenis geneem is vir die besit van gesteelde eiendom.
Albei verdagtes verskyn Maandag 21 Oktober in die landdroshof, sê Mooi.




