R30 miljoen vir landbou en droogtehulp

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Die provinsiale regering in die Noord-Kaap het ongeveer R30 miljoen vir die onmiddellike ingryping in die verkryging en verspreiding van voer vir die landbougemeenskap beskikbaar gestel. 

Nomandla Bloem, LUR vir landhervorming, landbou en natuurbewaring in die provinsie, sê die ingryping kom na David Mabuza, adjunk president die verwoestende droogtestoestande in die provinsie evalueer het. 

“Daar is ‘n plan opgestel om te kyk hoe die geld die beste benut kan word, sodat dit soveel as moontlik boere kan bereik,” sê Bloem.

Die departement werk hard om hulp te verleen vir die produksie van voer en ook om die huidige kapasiteit van die provinsiale voerbank wat in die provinsie gevestig is, te vergroot.

Droogteklassifikasie gaan binnekort aangekondig word

Die klassifikasie van die droogte in die Noord-Kaap gaan binnekort amptelik deur die premier verklaar word.

Bloem sê die natuurlike hulpbronne van die provinsie en die land neem geweldig af terwyl die aanvraag na kos toeneem. Dringende maatreëls moet ingestel word om die agteruitgang van die land te bekamp. 

Die agteruitgang van grond bedreig die bestaan, welstand en volhoubare ontwikkeling van mense regoor die wêreld. ‘n Voorvereiste van ’n gesonde land is kos en water.

LandCare-program die sleutel

Bloem sê die LandCare-program wat hierdie week begin het, is die sleutel om hierdie kwessies aan te pak.

Die agteruitgang van grond is ’n ernstige uitdaging in die provinsie. Sekere dele van die provinsie en land herstel nog van die droogtestoestande in 2015 en 2016. Dit het die veeproduksiebedryf aansienlik beïnvloed en het natuurlike landbouhulpbronne belemmer.

Bloem sê: “Die verlies aan produktiewe grond as gevolg van verkeerde grondgebruikmetodes deur boere en ander grondgebruikers, is die grootste bydraer tot die agteruitgang van grond.”

Die LandCare-program poog om grondgebruikers te bemagtig om die belangrikheid van volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne te erken.

Daar word tans ses (6) LandCare-projekte in die provinsie implementeer. Dit fokus op bewaringslandbou, junior LandCare, LandCare-bewustheid en VeldCare.

Die volgende probleemkwessies gaan deur die loop van die week bespreek word:

  • Volhoubare gebruik van gemeenskaplike weiding vir verbeterde veeboerdery, marktoegang en ekonomiese voordele; 
  • Volhoubare gebruik waterbronne en waterbestuur; 
  • LandCare-oplossings om die aanvaarding van volhoubare grondbestuurspraktyke te verbeter; 
  • Beste praktyke vir die beheer en benutting van indringerplantspesies en
  • Ervarings van die LandCare-komitees.