STILFONTEIN – ’n 42-Jarige man van Khuma buite Klerksdorp staan tereg nadat hy na bewering sy 13-jarige stiefdogter verkrag het.
Lt.-kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie in die Noord-Wes sê die beskuldigde het gister sy eerste verskyning in die Stilfontein-landdroshof gemaak.
Funani sê volgens hulle inligting het die slagoffer se moeder op die dag van die voorval haar en twee ander minderjariges in die toesig van die beskuldigde gelaat om familie te gaan besoek.
Die verdagte het glo die twee minderjariges van vier en die vyf jaar onderskeidelik na die winkels gestuur. Na bewering het sy stiefdogter gebad toe hy daar ingegaan het om haar te verkrag.
Funani sê die oom van die slagoffer het ’n kind hoor huil. Die oom het ander familie om bystand geroep.
Die familie het die seksuele oortreding by die polisie aangemeld en die verdagte is op Saterdag 5 Oktober in hegtenis geneem.
Volgens die slagoffer se getuienis was dit nie die eerste keer wat haar stiefpa haar verkrag het nie.
Die beskuldigde sal tot 16 Oktober in aanhouding bly, wanneer hy vir ’n borgaansoek verskyn.



