Waterkrisis duur voort, MRK ingeroep, sê DA

KIMBERLEY – Die DA het vandag die Sol Plaatje-munisipaliteit by die Suid-Afrikaanse menseregtekommissie (MRK) aangekla.

Dit kom nadat sekere gebiede in Kimberley sedert verlede week steeds sonder water is. Inwoners het vanoggend weer eens die dag met droë krane begin. 

Die DA het ’n klag by die MRK ingedien. Die party sê die munisipaliteit het inwoners van die stad se basiese reg tot water geskend.

DA besoek Newton-opgaardam

DA-raadslede het vanmiddag die Newton-opgaardam besoek en die watervlakke by dié steeds kommerwekkend laag, op net 14 voet, gevind.

Chris Phiri, hoofsweep van die DA, sê die water was aangeskakel net voordat hulle dit besoek het. Die waterkrisis is geensins verby nie. 

Hy sê op grond van die inligting wat hulle ontvang het, kan die volgende twee dae steeds ‘n groot uitdaging bied. Watervoorsiening bly in gedrang. 

Inwoners word derhalwe aangemoedig om houers vol te maak elke keer as die watertoevoer herstel word, aangesien daar nie ‘n aanduiding is van hoe lank daar water in die krane sal wees nie, en wanneer dit aan- en afgeskakel word nie.

Waterkrisis kan weke voortduur

Volgens die DA lyk dit asof waterprobleme vir die stad oor die volgende paar weke sal voortduur. 

“In die afwesigheid van akkurate inligting wat deur Sol Plaatje-munisipaliteit aan raadslede en inwoners verskaf word, het die DA bogenoemde aannames gemaak op grond van wat ons vandag by die opgaardam gesien het. Ons kan net hoop die situasie word beter en word nie erger as wat ons voorspel het nie,” sê Phiri.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: